SPESIALE GELEENTHEDE:

  • KERSFEES

    KERSFEES 2011 SPYSKAART a la Madri

    VOORGEREG:

    Shrimp vrugte kebab met sweet chilli sousie a la Madri

    OF

    Biltong mousse a la Madri

    OF

    Koue komkommersop

    HOOFGEREG:

    WARM BYKOSSE

    Basmati rys

    OF

    Couscous

    Baba-aartappels met pietersielie in botterknoffel sousie

    OF

    Aartappelwiggies in oond met BBQ spice

    Pitmielie poffertjies

    OF

    Pampoenpoffertjies met caramelsous

    Groenbone

    OF

    Gemengde groente oondgereg

    Soet wortels

    OF

    Kaneel patats

    VLEIS – WARM (saam met bykosse hierbo) KOUD (saam met slaaie onder)

    Skaapboud in oond

    OF

    Varknek in oond

    Hoender in oond

    OF

    Kalkoen in oond

    Beestong met mosterdsous

    OF

    Verskeidenheid koue vleise

    SLAAI

    Gestolde komkommerslaai

    OF

    Drie-bone slaai

    Gestolde wortelslaai

    OF

    Gestolde mosterdring

    Griekse slaai

    OF

    Uitpakslaai

    Marokkaanse couscous slaai

    OF

    Broodslaai

    NAGEREG:

    GEBAK

    Katriena se Telefoonpoeding met roomys en vla

    OF

    Gebakte sjokolade poeding met roomys en sous

    KOUD

    Tiramisu

    OF

    Koekstruif

    Swartwoudkoek

    OF

    Driehoek kaaskoek

    Groete uit my Plaaskombuis ♥

    VOORGEREG:

    SHRIMP VRUGTE KEBAB MET SWEET CHILLI SOUSIE a la Madri

    Spanspek in blokkies en balletjies

    Aarbeie (heel of in helftes)

    Pynappel in drienhoekies

    Druiwe (groen en rooi)

    Kook shrimps in kookwater vir 2 minute. Braai liggies in olyfolie en margarien. Sit op kombuispapier.

    Ryg nou shrimps en vrugte op sosatiestokkies en sit oornag in yskas.

    Sousie:

    1 Koppie witasyn

    ¾ Koppie witsuiker

    Half koppie sweet chilli sous

    2 Eetlepels tamatiesous

    1 Eetlepel olyfolie

    Gemaalde swartpeper

    Gooi al die sousbestanddele in potjie en bring tot kookpunt. Prut vir 5 minute. Laat afkoel en sit in yskas.

    Sit vir elke gas ‘n vrugte kebab op ‘n bordjie, bedruip met sweet chilli sousie en garneer met mintblaartjie of bietjie fennel. Drup van die sousie op die bordjie se rand.

    OF

    BILTONG MOUSSE a la Madri

    1 Fyngekapte ui

    1 Hoender stock blokkie

    100ml Kookwater

    10ml gelatien

    Knypie fyn koljander

    10ml Bruinasyn

    170g Ideal melk (koud)

    100g fyn biltong

    45ml mayonnaise

    Spuit ‘n 1 liter vorm met cook ‘n spray. Braai die uie in olyfolie tot sag. Gooi uit pan en laat afkoel. Meng hoender stock blokkie met kookwater en sprinkel gelatien bo-oor. Roer totdat gelatien opgelos het. Voeg die uie, koljander en bruinasyn by. Klits die ideal melk tot styf. Vou die biltong en mayonnaise by die ideal melk en daarna die gelatien mengsel. Verkoel tot koud (maar nog nie gestol nie). Meng goed deur en gooi in vorm. Verkoel tot gestol. Keer vorm uit en sny vir elke gas ‘n snytjie. Bedien op mooi bordjie met melba roosterbrood, margarine en ‘n kwart gekookte eier en halwe cocktail tamatie. Garneer met ‘n takkie roosmaryn of fennel.

    OF

    KOUE KOMKOMMER SOP

    4 Groot komkommers

    2 Eetlepels margarien

    2 Eetlepels meel

    1/4 Koppie pietersielie fyn gekerf

    1/4 Koppie seldery blare fyn gekerf

    1 Pakkie uie sop

    2 Koppies water

    2 Koppies room

    Metode:

    Skil komkommers, sny dit in die lengte en verwyder die sade, Kerf die komkommer fyn tot jy min of meer 3 1/2 koppies het.

    Smelt nou die botter in 'n groot pot roer meel in en kook vir 3 min terwyl jy bly roer

    Voeg nou die komkommer, seldery en pietersielie en verlaag die temperatuur. Kook tot die komkommers sag is, min of meer 8 min.

    Meng die water en uie sop in 'n apparte bak, Voeg dit by die komkommers. Verhit tot dit kook en laat dit prut vir 15 min.

    Laat die sop staan by kamer temperatuur.

    Blits dit in 'n verwerker in klein hoeveelhede tot die sop romerig is. Voeg dan die room by, skink in 'n groot bak en sit dit in die yskas tot dit koud is.

    Die sop moet koud bedien word. Skep vir elke gas ‘n kelkie of sop in spierwit nagereg bakkie. Garneer met ‘n skyfie komkommer, gemaalde swartpeper en stukkie fennel.

    HOOFGEREG:

    PITMIELIE POFFERTJIES

    1 Blikkie pitmielies

    1 Koppie koekmeel

    1.5 Teelepel bakpoeier

    2 Eetlepels suiker

    1 Eier

    Bietjie melk

    Knypie sout

    Sit droe bestanddele saam (behalwe suiker). Room eier en suiker saam . Meng met droe bestanddele en voeg pitmielies by. Gooi net genoeg melk by om die deeg hanteerbaar te maak. Skep vol teelepels vol in warm olie in. Die poffertjie pof baie mooi rond. Skep uit op kombuispapier. Skep in bak

    Sousie:

    Half koppie suiker

    125g margarien

    Koppie melk

    5ml vanilla essence

    Kook als saam in 'n potjie. Gooi bo-oor poffertjies in bak.

    PAMPOENKOEKIES MET STROOP

    (sowat 20 koekies)

    500 ml gaar pampoen

    120 g (215 ml) koekmeel

    10 ml bakpoeier

    2 ml sout

    1 eier, geklits

    sonneblomolie om koekies in te bak

    Stroop

    15 g botter

    300 g suiker

    200 ml melk

    15 ml mielieblom

    175 ml koue water

    1 kaneelstok

    Druk die pampoen fyn en meng met res van die bestanddele behalwe die olie. Verhit die olie in 'n pan en braai eetlepels vol beslag in warm olie tot bruin aan albei kante. Dreineer op kombuispapier. Maak die stroop: Verhit die botter, suiker en melk tot kookpunt. Meng mielieblom en water, roer by melkmengsel in en bring tot kookpunt. Gooi warm sous oor warm koekies.

    SPEK-EN-FETA GROENBONE

    250 g pakkie spekstukkies

    500 g vars groenboontjies

    5 ml fyn knoffel

    100 g fetakaas, gekrummel

    2.5 ml uiesout

    knippie swart peper

    30 ml water

    Plaas die spek in 'n groot braaipan. Kook oor medium hitte tot die spek gaar en bros is. Skep dit uit die pan uit en hou van die vet oor vir later. Hou so 30 ml van die spek uit vir garnering.

    Kook die boontjies in bietjie soutwater maar nog nie heeltemal gaar nie. Dreineer, druk droog met kombuispapier en laat eenkant. Verhit nou weer die pan met die vet in, en braai die knoffel daarin tot goudbruin. Voeg die boontjies en feta (hou bietjie uit vir garnering) hierby in, en geur met die uiesout en peper. Verhit die boontjies oor matige hitte tot deurwarm en tot die meeste van die feta gesmelt het- dit neem ongeveer 2 minute.

    Skep die boontjies uit in 'n opdienbak en sprinkel die oorblywende spek en feta bo-oor vir garnering. Bedien warm.

    GEMENGDE GROENTE OONDGEREG

    1kg Gevriesde gemengde groente (country garden vegetables werk beste)

    4 Snytjies ham in blokkies

    10ml Country garlic & herb spice (Robertsons)

    Sout en gemaalde swartpeper

    1 Koppie gerasperde cheddar kaas

    Paprika

    Olyfolie

    Gooi groente in 'n bak en bedek met kookwater en mikrogolf op hoog vir 7-10 minute. Dreineer. In 'n oondskottel - gooi olyfolie in bak. Gooi groente uit in oondbak en versprei mooi. Gooi sout en gemaalde swartpeper en country garlic en herb spice oor. Gooi ham blokkies oor. Bedek met gerasperde kaas. Strooi paprika vir kleur en grill in oond tot kaas goudbruin is

    SOETWORTELS

    500 g geelwortels

    250 ml wit suiker

    2,5 ml fyn kaneel

    Skil die wortels en sny dit in dun wieletjies. Sit dit saam

    met 'n bietjie water in 'n kastrolletjie en kook tot die wortels sag is. Gooi

    die vloeistof af en sit die wortels terug op die hitte. Gooi die suiker oor en

    roer tot die wortels goed bedek is. Roer en kook tot die suiker gesmelt is en

    dit 'n blink, karamelagtige laag bo-op die wortels gevorm het. Sprinkel die

    kaneel oor en meng goed deur. Bedien warm.

    KANEELPATATS

    1.5 kg patat

    300 ml margarien

    300 ml bruin suiker

    750 ml mini-malvalekkers

    2.5 ml fyn kaneel

    1 ml fyn neut

    Kook die patats tot gaar en skil af. Sny die patats in groterige blokkies, en druk van die

    blokkies effens fyner met 'n vurk.

    Voorverhit die oond tot 180 grade. Smeer 'n oondvaste bak.

    Meng die margarien, bruin suiker, 500 ml van die malvalekkers, kaneel en neut saam

    in 'n kastrol. Kook oor medium hitte, en roer gedurig tot die malvalekkers gesmelt is.

    Meng die patat goed by die mengsel in.

    Skep dit in die voorbereide bak uit en bak in die oond vir 15 minute. Verwyder

    uit die oond en gooi die res van die malvalekkers bo-oor. Plaas terug in die

    oond en bak tot die malvalekkers gesmelt en goudbruin is. x

    GRIEKSE LAMSBOUD MET JOGURTSOUS

    1.5kg lamsboud

    3 knoffelhuisies, gekerf

    50ml botter

    5ml roosmaryn

    3ml tiemie

    12.5ml suurlemoensap

    sout en peper na smaak

    SOUS:

    250ml jogurt

    2 knoffelhuisies, gekneus

    10ml vars kruisement, gekap

    10ml sprietui, gekap

    Sny klein snytjies oral in lamsboud. Druk knoffelstukkies in

    snytjies. Klop botter, roosmaryn, tiemie en sap saam. Geur na smaak. Plaas

    vleis in oondbraaipan en oondbraai by 160C. Laat 20 minute toe vir elke 500g

    vleis plus 20 minute. Bedruip vleis af en toe met bottermengsel.

    Berei sous: Meng jogurt met res van sousbestanddele. Geur nasmaak.

    Sit voor saam met vleis.

    VARKNEK a la Madri

    Ek neem varknek in sit dit in 'n oondbak (gooi olyfolie onder in oondbak en sprinkel sout en gemaalde swartpeper en sous van pynappelstukke). Voorverhit @ 180 grade C.

    1 Blikkie pynappelstukkies

    1 Gekapte ui

    1 Pakkie mutton & veg sop

    300ml koue melk

    200ml koue water

    5ml Mixed herbs

    Sousie:

    Half koppie tamatiesous

    Half koppie bladjang

    Half koppie asyn

    Half koppie heuning/goue stroop

    30ml worcestersous

    5ml fyn gemmer

    2 Eetlepels suurlemoensap

    Bietjie kookwater

    Meng al die sous bestanddele saam. Baste die varknek met die sous en ook gedurende die bakproses so elke 10-15min.

    Sit varknek in oond en elke keer wat jy vark baste met sous, draai vark. Bak vir so 40min tot 'n uur. Haal reksakkie af en sny die varknek in dun stukkies.

    Meng sop, gekapte ui, pynappelstukke, koue melk en koue water en speserye saam asook die oorblyfsels van die basting sousie. Bring tot kookpunt in pot. Gooi warm sous oor die varknek stukke.

    AARTAPPELSKYFIE HOENDER IN OOND

    2kg Hoender porsies

    Sout en peper;

    90ml botter, gesmelt

    3 knoffelhuisies, gekneus

    1 Groot pak kaas-en-uieskyfies

    Metode:

    Plaas hoenderporsies met vel na bo in gesmeerde oondskottel. Geur. Voeg die

    fyn knoffel by die gesmelte botter en bedrup hoender daarmee. Maak die

    aartappelskyfies fyn en sprinkel oor die hoender. Bak in voorverhitte oond

    teen 200°C vir 'n uur en half of tot gaar.

    KALKOEN IN OOND

    Die Kerskalkoen word nie met die vulsel gestop nie. Dit word apart gebak en dan net saam met die kalkoen en sous voorgesit.

    1 kalkoen van 5-7 kg, ontdooi indien gevries, goed skoongemaak

    Voorverhit die oond tot 150 °C. Spoel die kalkoen goed af (binne en buite) en druk goed droog met kombuispapier. Geur goed met sout en peper (binne en buite). Sny twee suurlemoene in stukkies en voeg 'n handvol vars tiemie en pietersielie by. Vul die kalkoen se maaggedeelte daarmee en bind die kalkoen op met tou. Smeer 'n diep oondbak goed met 'n mengsel van olyfolie en botter. Sny die uie in skywe en pak dit in 'n enkellaag in die oondbak om 'n "bed" te vorm waarop die kalkoen in die oond rus. Sprinkel 'n paar tiemietakkies oor die uie en geur goed met sout en vars gemaalde swartpeper. Druk 'n ekstra suurlemoen oor die ui-en-kruiebed uit. Giet 'n koppie (250ml) hoenderaftreksel bo-oor. Sit die kalkoen bo-op neer en smeer goed met sagte botter. Bedek en bak vir ongeveer 3-3 ½ uur, of tot gaar. (Toets vir gaarheid deur 'n toetspen of sosatiestokkie in die dikste deel van die vleis te druk. As die sappe wat uitloop helder is, is die kalkoen gaar). Haal uit die oond en laat rus vir 30 minute, voor die deksel afgehaal word. Haal die deksel af en laat afkoel. Sit die kalkoen op 'n dienbord en smeer met 'n mengsel van sagte botter, sout, peper en heuning. Oondrooster net voor ete vir 20-30 minute (teen 190 °C tot 200 °C) tot 'n diep, goue kleur.

    Vulsel

    250g vars witbroodkrummels

    12 middelslag-varkworsies, vleis uit worsderms gedruk

    1 groen appel, geskil, ontpit en grof gerasper

    3 knoffelhuisies, fyn gekap

    100g lig geroosterde amandels, grof gekap

    60ml gekapte, vars pietersielie

    45ml gekapte tiemieblaartjies

    Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

    4 eiers, geklits

    60ml gesmelte botter

    Meng die broodkrummels, varkworsievleis, appel, knoffel, amandels, pietersielie, tiemie, sout en peper goed saam. Roer die geklitste eiers en gesmelte botter by. Skep die mengsel in ‘n gesmeerde brood- of koekpan en bedek met foelie. Verkoel tot benodig en bak (net voor ete) vir 30 minute tot gaar. Sny in skywe of blokkies en sit saam met die kalkoen en sous voor.

    Sous

    Wanneer die kalkoen op die dienbord gesit word, sit die roosterbak (met al die pansouse en uie) op 'n warm stoofplaat en verhit tot kookpunt. Sprinkel 60ml koekmeel oor, verhit tot kookpunt en voeg nog 250ml hoenderaftreksel asook 250ml port by. Kook, terwyl geroer word, tot verdik en gaar. Verpulp tot glad, geur na smaak en voeg ‘n skeut room by, indien verkies.

    BEESTONG MET MOSTERDSOUS

    1 Beestong (gepekel)

    3 Kruienaeltjies

    15ml Bruinsuiker

    125ml Witsuiker

    30ml Kookolie

    30ml Koekmeelblom

    3ml Sout

    60ml Mosterdpoeier

    5ml Peperkorrels

    250ml Kookwater

    12.5ml Wit asyn

    12.5ml Mayonnaise

    Sap van een suurlemoen

    Broodkrummels

    Rol tong op en bind met tou vas.

    Kook sag in baie kookwater waarby naeltjies, bruinsuiker en peperkorrels gevoeg is.

    Plaas tong op bord wanneer dit sag is en trek die velle af.

    Laat dit afkoel en plaas in koelkas om goed koud te word voordat dit in skywe gesny word.

    Meng witsuiker, koekmeelblom, mosterd, sout en water in bak. Roer mayonnaise en suurlemoensap by.

    Pak helfte van tongskywe in vuurvaste bak en skep helfte van die sous oor.

    Pak res van tong bo-oor en dan die oorblywende sous.

    Sprinkel broodkrummels oor en bak vir 30 minute teen 180 grade C.

    MOSTERD (KOUD)

    1 groot eier

    50ml asyn

    0.5ml sout

    12.5ml suurlemoensap

    25ml sonneblomolie

    225g kondensmelk

    Klits eier tot skuim, klits mosterd by. Klits suurlemoensap en asyn by. Klits olie in. Voeg kondensmelk geleidelik by. Klits baie goed. Verkoel in houer wat dig seël. x

    SLAAI

    GESTOLDE KOMKOMMERSLAAI

    2 Komkommers - gerasper met skil en gedreineer

    1 Klein ui gerasper

    1 Pakkie groen jellie

    1 Teelepel gelatien

    125ml Kookwater

    250ml Gladde maaskaas

    250ml Mayonaise

    2 Teelepels suurlemoensap

    Sout en peper

    Maak jellie en gelatien aan met kookwater.

    Voeg mayonasie, maaskaas suurlemoensap by.

    Voeg komkommer ui sout en peper by.

    Meng en gooi in ring wat uitgespoel is met yskaswater.

    Plaas in yskas.

    3-BONE SLAAI

    1 Blik baked beans

    1 Blik groenbone

    1 Blik botterbone

    1 Ui, gekap

    1 Green pepper, gekap

    Sous:

    125ml Olie

    125ml Asyn

    125ml Suiker

    80ml Suurlemoensap

    1 Teelepel mosterd poeier

    1 Teelepel knoffel

    Sout, peper, aromat na smaak

    1 Teelepel Basil (opsioneel)

    Meng al die slaai bestanddele saam. Meng sous bestanddele saam en gooi oor die slaai. Meng goed deur. Maak tenminste een dag voor die tyd om kans te gee dat die slaai trek. Hoe langer hy staan, hoe lekkerder!

    GESTOLDE WORTELSLAAI

    1 Medium blik 'crushed' pynappelstukke

    4 Koppies gerasperde wortels

    1 Pakkie pynappeljellie

    15ml Gelatien (aangemaak met 15ml lou water)

    Halwe teelepel sout

    Kwart koppie suiker

    2 Teelepels suurlemoensap

    1 Blik nestle room, geklop

    Gooi sap van pynappelstukke af, genoeg vir 1 koppie. Voeg 2 koppies water by pynappelsap en laat kook. Haal af van stoof en laat afkoel. Voeg jellie, suurlemoensap, sout, gelatien en suiker by. Laat afkoel tot dikte van wit van 'n eier. Rasper 4 koppies wortels by. Voeg fyn pynappelstukkies by afgekoelde jelliemengsel. Voeg geklopte room by. Gooi in vorm en laat stol.

    MOSTERDRING

    4 Eiers

    250ml Water

    125ml Asyn

    175ml Suiker

    15ml Gelatien

    15ml Mosterdpoeier

    2ml Borrie

    1ml Sout

    250ml Room

    Klits die eiers in die boonste deel van ‘n dubbele kastrol. Klits die water en asyn by die eiers. Meng die suiker, gelatien, mosterd, borrie en sout en meng dit baie goed met die eiermengsel. Plaas dit oor kokende water en roer aanhoudend totdat die mengsel effens dik is. Laat dit afkoel tot lou, maar roer kort-kort sodat daar nie ‘n vel vorm nie. Klits die room tot styf en vou dit in die mosterdmengsel in. Giet dit in ‘n ringvorm wat met kleefwerende kossproei bespuit of met koue water uitgespoel is. Plaas dit in die koelkas om te stol.

    MAROKKAANSE COUSCOUS SLAAI

    1 Pak Couscous gaargestoom en gevlok met bietjie botter

    1 Pak Calamata Olywe

    4 Wiele Feta in blokkies

    1 Pakkie geroosterde amandels

    1 Pakkie cocktail tamaties in helftes

    1 Komkommer in halfmane

    1 Rooi/Pers ui gekap

    Sous:

    175ml Olyfolie

    175ml Appelasyn

    12 Teelepels suurlemoensap

    15ml Mixed herbs spice

    Gemaalde swartpeper

    Skud sousie goed in 'n bottel. Gooi oor slaai en meng goed. Verkoel voor bediening en meng weer goed voor jy in mooi slaaibak sit.

    BROODSLAAI

    1 Brood in blokkies gesny

    2 Koppies kaasblokkies

    2 Teelepels mosterdpoeier

    1 Teelepel sout

    ½ Teelepel peper

    2 Eiers

    ½ Koppie gesmelte botter

    1 Koppie kondensmelk

    25ml Asyn

    125ml Agurkies in skyfies gesny

    3 Hardgekookte eiers.

    Braai broodblokkies tot bruin in olie.

    Dreineer op papierhandoek. Laat koud word.

    Klits mosterd, sout, peper, en asyn saam. Voeg geklitste eiers by. Voeg kondensmelk en botter by. Kook vir 5 minute. Roer aanhoudend laat afkoel. Meng met brood en kaasblokkies, agurkies en eiers. Versier met vars pietersielie. x

    NAGEREG:

    TELEFOONPOEDING

    Deeg:

    3 Koppies meelblom

    3 Koppies melk

    2 Eetlepels botter

    2 Eiers

    2 Teelepels koeksoda

    2 Koppies suiker

    2 Eetlepels appelkooskonfyt

    2 Teelepels vanielje

    2 Teelepels gemmer

    Knypie sout

    Klits botter en suiker tot room. Klits eier en vanielje en voeg by. Sif soda, meelblom, gemmer by. Maak aan met melk en voeg laaste die konfyt by.

    Sous:

    2 Koppies suiker

    3-4 Koppies water

    Roer tot suiker gesmelt is en bring tot kookpunt. Gooi oor deeg en bak tot gaar.

    WARM SJOKOLADE POEDING

    1 k Meelblom

    ½ t Sout

    ½ E Kakao

    ¾ k Suiker

    3 t Bakpoeier

    ½ - ¾ k Melk

    ½ t Vanieljegeursel

    ¼ k Botter

    METODE:

    Klits botter en suiker tot room en voeg die goedgeklitste eier by. Sif die droë bestanddele en roer dit om die beurt met die melk by die bottermengsel, voeg die geursel by.

    Maak die sjokoladesous deur 1 koppie water, ʼn koppie suiker en 1 Desertlepel kakao on ʼn kastrol te meng en te roer tot dit kook. Gooi sjokoladepoe-dingmengsel in ʼn gesmeerde vuurvaste skottel.

    Gooi die sous daaroor en bak vir ongeveer 35 minute in ʼn matige oond.

    SWARTWOUDKOEK

    Halwe koppie margarine

    Halwe koppie suiker

    2/3 Koppie kakao

    1, 2/3 Koppie meel

    1 Teelepel vanilla-ekstrak

    1,5 Koppie karringmelk

    2 Eiers

    1 Teelepel bakpoeier

    1 Teelepel sout

    Halwe koppie kirschwasser

    Halwe koppie botter

    3 Halwe koppies strooisuiker

    Knypie sout

    1 Teelepel sterk koffie

    2 Nlikkies kersies, gedreineer

    500ml Room

    Halwe teelepel vanilla-ekstrak

    1 Eetlepel kirschwasser

    Gerasperde amandels

    Gerasperde sjokolade en sjokolade krulle

    Verhit die oond tot 180 grade C.

    Voer die bodem van 2 koekpanne uit met bakpapier.

    Sif die meel, kakao, bakpoeier en teelepel sout saam. Hou eenkant.

    Verroom die suiker en margarine.

    Klits die eiers en 1 teelepel vanilla-ekstrak by.

    Klits die meelmengsel en karringmelk by.

    Gooi in die koekpanne.

    Bak vir 40 minute.

    Laat heeltemal afkoel en sny dan elke koek horisontaal in twee.

    Sprinkel die kirschwasser oor die 4 koeke.

    Verroom die halwe koppie botter en klits die knypie sout, strooisuiker en koffie by tot glad. Gebruik dit as versiering en smeer dit op elke laag koek. Deel die kersies tussen die verskillende koeke. Jy het dus nou 4 koeke, elkeen gesmeer met die koffieversiersel en bedek met kersies.

    Plaas die lae koek op mekaar.

    Klits nou die 500ml room, halwe teelepel vanilla-ekstrak en 1 eetlepel kirschwasser saam.

    Bedek die kante en bokant van die koek met die roommengsel.

    Versier met gerasperde amandel en die sjokolade.

    TIRAMISU

    125ml Sterk swart koffie

    62.5ml Brandewyn

    2 Groot eiers geskei

    125g Bakers Boudior beskuitjies

    25ml Strooi suiker

    10ml Addisionele brandewyn

    10ml Kakao

    150g La Campania mascarpone kaas

    Meng koffie en 62.5 ml brandewyn.

    Doop beide kante van die beskuitjies in die mengsel en rangskik op die bodem van 'n vlak bak. Bedek die bodem van die bak met die beskuitjies. Gooi die oorblywende stroop oor die beskuitjies.

    Room geel van eiers (geskei) en strooisuiker saam tot dit dik en geel is.

    Voeg 10 ml brandewyn en La Campania kaas by die eiermengsel en meng tot glad.

    Klits die eierwitte tot styf, en vou in die eiermengsel in.

    Gooi die mengsel oor die beskuitjies. Los in die yskas vir 4 ure tot dit geset is.

    Besprinkel met kakao voor dit bedien word. Bedien 4 - 6 porsies.

    Jy kan die beskuitjies in twee lae pak, en dit met 'n bietjie room en selfs kaneel bo-op bedien.

    OF MAAK VIR ELKE PERSOON SY EIE IN TIRAMISU IN ‘N GROOT WYNGLAS….!

    DRIEHOEK KAASKOEK

    125 ml sagte botter

    65 ml strooisuiker 65 ml versiersuiker

    1 eiergeel

    5 ml vanieljegeursel

    250 g geroomde maaskaas

    1 pakkie Tennis-beskuitjies

    kersies

    250 ml vars room

    1 Flake

    Aluminiumfoelie

    1. Meng of klits die botter, versiersuiker en strooisuiker saam. Meng goed met 'n houtlepel. Voeg die eiergeel en vanieljegeursel by en meng goed.

    2. Vou die maaskaas in.

    3. Sny 'n groot stuk foelie en plaas op 'n houtbord.

    4. Plaas 12 beskuitjies op die foelie (3x4). Die beskuitjies moet dig teen mekaar lê.

    5. Smeer die helfte van die mengsel oor die beskuitjies. Moenie die beskuitjies skuif nie.

    6. Plaas weer 12 beskuitjies bo-op (in dieselfde orde as voorheen) en smeer die res van die mengsel.

    7. Plaas kersies in 'n ry in die middel van die koek en trek dan die buiterande van die foelie na bo om 'n driehoek te vorm.

    8. Vou nou die driehoekige vorm toe met foelie en plaas in vrieskas vir omtrent 2 uur of totdat koek hard en gevries is.

    9. Verwyder foelie, plaas op bedieningsbord en bedek met styfgeklopte room. Versier met gekrummelde Flake en kersies. x



    Like this post to subscribe to the topic.
  • MOEDERSDAG

  • PAASFEES

  • ROMANTIESE ETE (VALENTYNSDAG)

  • VADERSDAG

  • ANDER

  • ANDER

  • ANDER

  • ANDER

  • ANDER